SONOGRAFIE VAN DIE SKOUERGORDEL-AREA
Geen X-strale word by ultraklank-ondersoeke gebruik nie. Die spesiale voordeel daarvan is dat strukture in beweging getoon en beoordeel kan word. So byvoorbeeld toon ’n MRB (magnetiese resonansbeelding) beseringskade op ’n spesifieke moment, maar met sonografie kan ons werklik en regstreeks sien wat gebeur as die skouer beweeg. Wanneer die arm beweeg word en spiere word gespan, kan ons sien of ’n sening net verrek of gedeeltelik geskeur is, of dit tydens die beweging vasgeknyp word, en of dit heeltemal geskeur is en terugtrek.
MRB VAN SKOUER (KERNROTASIE)
By magnetiese resonansbeelding is geen X-strale nodig nie. Vir hierdie tipe ondersoek lê die pasiënt in ’n soort oop buis. Weefsel soos senings, spiere, ligamente en vloeistof word in lae getoon wat nie op ’n X-straalbeeld sigbaar is nie. Kraakbeen en gewrigskante (labrum) is op verskillende vlakke sigbaar. Areas wat nie deur ultraklankgolwe bereik kan word nie, word in ’n MRB gewys.
’n CT-skandering (gerekenariseerde tomografie) ondersoek ook vlakke en lae, maar gebruik X-strale. Dit wys hoofsaaklik beenstrukture en nie senings, spiere en ligamente nie.
X-STRAALBEELDING
Vir meer as honderd jaar word beelde van ons gebeentes al deur X-strale verkry. Dit toon breuke en is belangrik vir die diagnosering van artrose en gewasse.
Senings, spiere en ligamente is nie op X-straalbeelde sigbaar nie; dit kan slegs met behulp van ultraklank of MRB gesien word.
’n CT-skandering gee X-straalbeelde op verskillende vlakke en toon bene, maar nie senings, spiere of ligamente nie.
INSPUITINGS
Pynstillers, hialuronsuur, verdowingsmiddels, of ’n persoon se gesentrifugeerde eie bloedselle kan ingespuit word, afhangend van die pynvlak en terapeutiese noodsaak. Senings, bursa-sakke en kraakbeenagtige oppervlakke kan binne-in en buite-om die gewrig behandel word.
MINIMAAL-INGRYPENDE ARTROSKOPIE
Minimaal-ingrypende chirurgie en artroskopie se beter kosmetiese resultaat met behulp van klein snitte is maar net een van baie voordele Pasiënte van enige ouderdom en fiksheidsvlak kan vinnig herstel en hul funksionaliteit herwin omdat daar nie aan essensiële weefsel gesny hoef te word nie. Daar is geen nodigheid om spiere van ’n been te verwyder om plek te maak om te werk nie, soos wat die geval is in ’n heeltemal oop operasie. Die risiko van bloeding word kleiner en die duur van narkose word verkort.
By ’n artroskopie is die kamera en instrumente wat gebruik word dunner as ’n balpuntpen; dit gly tussen die spiervesels deur sonder dat ernstige skade aangerig word. Sommige instrumente en materiale is so klein dat hulle nie met die blote oog onderskei kan word nie en verskeie skerms word vir veelvuldige vergrotings gebruik. Dit maak artroskopie die mees gesofistikeerde mikro-chirurgie met behulp van die nuutste mediese tegnologie.
HAND- EN MIKROCHIRURGIE
Wanneer daar aan delikate strukture in die skouers, elmboë en hande gewerk word, gebruik ons mikroskope, vergrootglase en kameravergrotings. Operasies aan senuwees en are vereis piepklein presisie-instrumente en materiale wat dikwels nie met die blote oog gebruik kan word nie. Sommige hegmateriaal wat ons gebruik, is dunner as ’n menshaar.
BEENBREUKE (FRAKTURE)
Wanneer bene aan druk onderwerp word wat hul natuurlike buigbaarheid oorskry, breek dit. Anatomiese herkonstruksie is dikwels nodig om volle funksionaliteit te herwin, maar ook omdat die gebreekte punte van ’n been geheg moet word om genesing moontlik te maak. Sommige breuke kan inderwaarheid nie sonder mediese behandeling genees nie. Minimaal-ingrypende chirurgie se hoofdoelwit is nie kosmetiese verbeteringe nie, maar om pasiënte van enige ouderdom en fiksheidsvlak in staat te stel om hul funksionaliteit en topverrigting so gou moontlik te herwin. Minimaal ingrypende prosedures het ook die voordeel dat spiere aan bene geheg bly en ander weefsel kwalik versteur word, anders as by oop chirurgie waar weefsel gesny moet word om ruimte te maak. By minimaal ingrypende operasies vir breuke maak klein snitte dit moontlik om die beenposisie te herstel sonder dat weefsel, spiere, ligamente of vel versteur hoef te word...
BEENBREUKE (FRAKTURE)
Wat die sleutelbeen (klavikula), die bo-arm (humerus) of die skouerblad (skapula) betref, is daar verskeie prosedures en materiale waarop daar vir die behandeling van die individuele beenbreuk besluit moet word. Die AO-stigting (werksgroep vir beenfusies) se klassifikasie word wêreldwyd vir die diagnosering van beenbreuke gebruik. Dit vorm ’n belangrike grondslag vir besluitneming oor of en hoe geopereer moet word. Soms kan skerp beenpunte of -splinters by breuke gevare inhou soos die beskadiging van are of senuwees as dit nie reg behandel word nie. Indien breuke in die verkeerde posisie aangroei, kan dit ook lei tot die vernietiging van gewrigte (post-traumatiese artrose). Sonder die regte behandeling kan die pasiënt op lang termyn pyn en beperkte beweeglikheid ervaar, wat sy of haar lewensgehalte met ’n langdurige lyding aansienlik kan inkort.
ARTROSE, VERLIES VAN KRAAKBEEN
Soos enige gewrig bestaan die skouer uit wat as gladde oppervlakke beskryf kan word. Hierdie kraakbeenagtige oppervlakke verseker dat bewegings glad en byna wrywingsloos plaasvind. Dit kan egter verweer as gevolg van vorige seningbeserings of spieronstabiliteit ná beenbreuke of ongelukke. Indien hierdie oppervlaktes dun word, net soos gladde motorbande of skoensole wat baie gebruik is, sal die wrywing in die gewrig erger raak. As die bene teen mekaar begin skuur, sal elke beweging uiteindelik pynlik wees. Anders as ander soorte weefsel soos spiere, senings en bene, kan kraakbeen nie teruggroei nie. Verskeie fisieke behandelings en inspuitings bied dikwels aansienlike verligting en verbetering van die simptome; in sommige gevalle is ’n kunsmatige gewrig (endoprostese) die beste oplossing om beweeglikheid terug te kry en die pyn te beëindig.
ENDOPROSTESE (KUNSMATIGE GEWRIG)
’n Endoprostese is ’n kunsmatige gewrig. Die uitgewerkte, pynlike gewrigsoppervlak word verwyder en ’n nuwe oppervlakvervanging ingeplant. Omgekeerde skouerprosteses lewer goeie resultate, selfs ná die verlies van senings of vorige operasies. Die materiaal wat gebruik word, word volgens die pasiënt se individuele behoeftes en toestande soos nikkel-intoleransie en osteoporose aangepas.
Die doel van ’n nuwe gewrig is die herstel van vryelike beweging sonder pyn.