VASKLEMMINGS
Die hoofsening wat jou in staat stel om jou arm op te lig (supraspinatus-sening) gaan deur ’n relatiewe nou ruimte tussen die humerale kop en die akromion (boonste deel van skouerbeen). Om dit in staat te stel om sy belangrike funksie goed uit te voer, word die sening deur die bursa beskerm. Laasgenoemde vergemaklik die glyaksie van die sening en beskerm dit teen stampe en stote. As die ruimte te nou is, sal die bursa geskaaf word en ontsteek (bursitis). Die sening kan ook vasgeknyp en beskadig word. Soos wat ’n persoon ouer word, kan benerige neerslae by die akromion vorm. Dit veroorsaak dikwels probleme. ’n Deurdringende pyn wanneer die arm opgetel word, dui hierop. Dit word “vasklemming” genoem. Die inflammasie het dikwels verlammende pyn gedurende die nag tot gevolg en lei tot ’n aansienlike vermindering van lewensgehalte. Inspuitings, fisioterapie en minimaal ingrypende metodes word gebruik om die pyn te behandel, die oorsaak uit te skakel en die sening te help om weer sy werk te doen deur makliker en gladder te skuif.
SENINGBESERINGS
Senings verbind spiere aan bene en dra dus die volle trekkrag en gewig tydens bewegings. Indien senings in ongelukke, vasklemmings of deur oormatige gebruik beskadig, verrek of heeltemal geskeur word, verloor hulle hul funksie. In die skouerarea byvoorbeeld, kan ’n persoon die vermoë verloor om sy of haar arm vinnig op te lig indien die hoofsening wat die gewig vir daardie beweging dra, gedeeltelik of heeltemal losgeskeur het. Dikwels gaan dit met verlammende pyn gepaard. Slegs ’n minimaal ingrypende operasie mag nodig wees om hierdie skade te herstel en die sening weer aan te heg. Danksy die moderne mediese wetenskap stel hierdie artroskopie, soos dokters dit noem, chirurge in staat om met mikroskopiese vergroting, kameras, sensitiewe instrumente en die mees moderne materiale te werk sonder dat groot snitte in liggaamsweefsel nodig is. Dit behels net werk aan bene en senings. Ná die operasie genees senings en word funksionaliteit herstel.
BEENBREUKE (FRAKTURE)
Wanneer bene aan druk onderwerp word wat hul natuurlike buigbaarheid oorskry, breek dit. Anatomiese herkonstruksie is dikwels nodig om volle funksionaliteit te herwin, maar ook omdat die gebreekte punte van ’n been geheg moet word om genesing moontlik te maak. Sommige breuke kan inderwaarheid nie sonder mediese behandeling genees nie. Minimaal-ingrypende chirurgie se hoofdoelwit is nie kosmetiese verbeteringe nie, maar om pasiënte van enige ouderdom en fiksheidsvlak in staat te stel om hul funksionaliteit en topverrigting so gou moontlik te herwin. Minimaal ingrypende prosedures het ook die voordeel dat spiere aan bene geheg bly en ander weefsel kwalik versteur word, anders as by oop chirurgie waar weefsel gesny moet word om ruimte te maak. By minimaal ingrypende operasies vir breuke maak klein snitte dit moontlik om die beenposisie te herstel sonder dat weefsel, spiere, ligamente of vel versteur hoef te word ...
BEENBREUKE (FRAKTURE)
Wat die sleutelbeen (klavikula), die bo-arm (humerus) of die skouerblad (skapula) betref, is daar verskeie prosedures en materiale waarop daar vir die behandeling van die individuele beenbreuk besluit moet word. Die AO-stigting (werksgroep vir beenfusies) se klassifikasie word wêreldwyd vir die diagnosering van beenbreuke gebruik. Dit vorm ’n belangrike grondslag vir besluitneming oor of en hoe geopereer moet word. Soms kan skerp beenpunte of -splinters by breuke gevare inhou soos die beskadiging van are of senuwees as dit nie reg behandel word nie. Indien breuke in die verkeerde posisie aangroei, kan dit ook lei tot die vernietiging van gewrigte (post-traumatiese artrose). Sonder die regte behandeling kan die pasiënt op lang termyn pyn en beperkte beweeglikheid ervaar, wat sy of haar lewensgehalte met ’n langdurige lyding aansienlik kan inkort.
MOTORFIETSRYERS, BERGFIETSRYERS, RENFIETSRYERS
Fietsryers en motorfietsryers is besonder kwesbaar vir skouerprobleme, selfs al sou ’n mens dit aanvanklik nie verwag het nie. As hulle val, breek hulle dikwels bene in die bo-arm, of die sleutelbeen. Die slag van die val veroorsaak dat die kante van die motorfietshelm die skouer tref omdat die nekwerwels en ruggraat nie die kop teen so ’n versnelling kan ondersteun nie. ’n Val van ’n tweewiel veroorsaak dikwels ’n wegskeuring van die akromioklavikulêre gewrig; so ’n AC-gewrigsbesering (geklassifiseer deur Tossy en Rockwood) kom voor waar die ligamente skeur wat die sleutelbeen en die skouerblad heg. Maar ook sonder dat ’n ongeluk plaasvind of ’n ryer val, plaas windweerstand selfs met gepaste klere groot druk op die skouers...
MOTORFIETSRYERS, BERGFIETSRYERS, RENFIETSRYERS
Op langer ritte is die skouer lank in dieselfde posisie. Dit beweeg skaars, maar druk word daarop geplaas omdat die fietsryer met wisselende krag vorentoe en af moet leun. Selfs om net die handvatsels vas te hou sonder om opgedruk te word, kan ’n irritasie en selfs inflammasie van die skouer se “skokbrekers” meebring. Die bursa word geskaaf en geskuur. Die daaropvolgende bursitis lei dikwels tot uitmergelende pyn, veral snags. Die persoon se lewensgehalte word erg beïnvloed en kort voor lank is dit nie net die ry van motorfietse, bergfietse en renfietse wat nie meer geniet kan word nie.
SKOUERS VAN ROLSTOELGEBRUIKERS
Tydens my werk by die Duitse Sentrum vir Rugmurgbeserings in Bad Wildungen en daarna, het ek baie by rolstoelgebruikers en my paraplegiese pasiënte geleer.
Die skouer is ’n rolstoelgebruiker se belangrikste ledemaat wat beweeglikheid en lewensgehalte verseker. Wanneer ek die skouers van rolstoelgebruikers behandel, is dit soos om met hoëprestasie-atlete te werk. Om in en uit die bed te klim en in die motor te kom, in die huis rond te beweeg, badkamer toe te gaan, met ander kontak te maak, en natuurlik om die rolstoel met die hand te beweeg – alles verg skouers in ’n puik toestand. Begrip vir die behoeftes van parapleë en hul behandeling vereis spesiale en dikwels innoverende mediese benaderings. Ons almal het ons skouers nodig, maar veral rolstoelgebruikers steun swaar op gesonde sterk skouers.
ARTROSE, VERLIES VAN KRAAKBEEN
Soos enige gewrig bestaan die skouer uit wat as gladde oppervlakke beskryf kan word. Hierdie kraakbeenagtige oppervlakke verseker dat bewegings glad en byna wrywingsloos plaasvind. Dit kan egter verweer as gevolg van vorige seningbeserings of spieronstabiliteit ná beenbreuke of ongelukke. Indien hierdie oppervlaktes dun word, net soos gladde motorbande of skoensole wat baie gebruik is, sal die wrywing in die gewrig erger raak. As die bene teen mekaar begin skuur, sal elke beweging uiteindelik pynlik wees. Anders as ander soorte weefsel soos spiere, senings en bene, kan kraakbeen nie teruggroei nie. Verskeie fisieke behandelings en inspuitings bied dikwels aansienlike verligting en verbetering van die simptome; in sommige gevalle is ’n kunsmatige gewrig (endoprostese) die beste oplossing om beweeglikheid terug te kry en die pyn te beëindig.
ENDOPROSTESE (KUNSMATIGE GEWRIG)
’n Endoprostese is ’n kunsmatige gewrig. Die uitgewerkte, pynlike gewrigsoppervlak word verwyder en ’n nuwe oppervlakvervanging ingeplant. Omgekeerde skouerprosteses lewer goeie resultate, selfs ná die verlies van senings of vorige operasies. Die materiaal wat gebruik word, word volgens die pasiënt se individuele behoeftes en toestande soos nikkel-intoleransie en osteoporose aangepas.
Die doel van ’n nuwe gewrig is die herstel van vryelike beweging sonder pyn.